Voel of jy by jou skreeusnaakse vriendin gaan kuier.
Mel die Storieverteller is ‘n komediant en skrywer wat bekendheid verwerf het deur haar skreeusnaakse video’s en skerp sê-goed. Met ‘n agtergrond in Drama en onderwys ken sy die lewe van ‘n lopende sirkus. Dis immers iets wat ‘n oom eenkeer op haar geskree het “Jy lyk soos ‘n sirkus!”. Vir ander sou dit dalk as ‘n belediging geklink het, maar vir Mel was dit die grootste kompliment en het dit haar lewe verander.
Waar ander dalk sal ontken “Nie my ape, nie my sirkus!” skree Mel skaamteloos “Dis al my ape en my sirkus – kom ons maak ‘n show!”
Na jare se rondval vind Mel die Storieverteller uiteindelik in 2020 haar lê plek as voltydse komediant en skrywer. Aanlyn verwerf sy meer as 380 000 sosiale media volgelinge en miljoene kyke – “Die getalle het nie heeltemal sin gemaak totdat mense Mel wou begin boek vir goed nie.”. Sy verower ook twee nominasies as Beste Komediant en TikTokker van die jaar by Netwerk24 se Smaakmaker toekennings en toe skop dit eers in – “Dalk moet ek nou maar ‘n website en ‘n email kry waar die mense my kan boek vir goed.”.
Haar eerste show ‘Almal is Mal!’ debuteer op 2 Mei 2023 voor ‘n uitverkoopte gehoor by die Atterbury Teater in Pretoria. In 2024 skop Mel die jaar af met ‘n nuwe komiese vertoning ‘Dik Deurmekaar’ wat rekord gehore lok by Innibos – die nuus het so ver versprei dat Mel Nieu Seeland toe vlieg vir haar eerste internasionale toer (kom ons sê maar net die Afrikaners in Australië was baie kwaad dat sy nie daar ook gestop het nie).
Mel maak die mense lê van die lag, maar inspireer ook. Sy is daai nuwe vars bries in komedie – oorspronklik, energiek en net lekker om na te luister.
VIR BESPREKINGS OF NAVRAE:
Coleen Du Toit
061 537 8435 | navrae@meldiestorieverteller.co.za